
- Maak die kruisteken en bid die Apostoliese Geloofsbelydenis.
- Bid die Onse Vader op eerste kraletjie.
- Bid die Wees Gegroet op volgende drie kraletjies.
- Bid die Eer aan die Vader. Verkondig die eerste geheimenis.
- Bid die Onse Vader op die volgende kraletjie.
- Bid tien Wees Gegroetjies op die tien kraletjies en bepeins die geheimenis.
- Bid die Eer aan die Vader. Bid die Fatima Gebed. Verkondig die tweede geheimenis en bid die Onse Vader.
- Bid tien Wees Gegroetjies op die volgende tien kraletjies en bepeins die geheimenis.
- Bid die Eer aan die Vader. Bid die Fatima Gebed. Verkondig die derde geheimenis en bid die Onse Vader.
- Bid tien Wees Gegroetjies op die tien kraletjies en bepeins die geheimenis.
- Bid die Eer aan die Vader. Bid die Fatima Gebed. Verkondig die vierde geheimenis en bid die Onse Vader.
- Bid tien Wees Gegroetjies op die tien kraletjies en bepeins die geheimenis.
- Bid die Eer aan die Vader. Bid die Fatima Gebed. Verkondig die vyfde geheimenis en bid die Onse Vader.
- Bid tien Wees Gegroetjies op die tien kraletjies en bepeins die geheimenis.
- Bid die Eer aan die Vader. Bid die Fatima Gebed.
- Bid die Wees Gegeroet, Koningin
- Bid die Gebed na die Rosekrans.
- Bid die gebed tot die Aartsengel Michael.
Kruisteken
In die naam van die Vader, en van die Seun, en van die Heilige Gees. Amen
Apostoliese Geloofsbelydenis
Ek glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van hemel en aarde; en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, onse Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die Maagd Maria; wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig, gestorwe en begrawe is; wat neergedaal het na die doderyk, die derde dag weer opgestaan het uit die dode, opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader, vanwaar Hy sal kom om te oordeel, die lewende en die dode. Ek glo in die Heilige Gees, die Heilige Katolieke Kerk, die gemeenskap van die heiliges, die vergewing van sondes, die wederopstanding van die liggaam en die ewige lewe. Amen.
Onse Vader
Onse Vader, wat in die hemel is, laat u naam geheilig word; laat u koninkryk kom, laat u wil geskied soos in die hemel net so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood, en vergeef ons, ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe, en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die bose. Amen.
Die Wees Gegroet
Wees gegroet, Maria, vol genade, die Here is met u.
Geseënd is u onder die vroue en geseënd is Jesus, die vrug van u skoot.
Heilige Maria, Moeder van God, bid vir ons sondaars, nou en in die uur van ons dood. Amen.
Eer aan die Vader
Eer aan die Vader en aan die Seun en aan die Heilige Gees, soos dit in die begin was, so ook nou en altyd tot in alle ewigheid. Amen.
Fatima Gebed
O my Jesus, vergewe ons ons sondes, verlos ons van die vuur van die hel.
Lei alle siele na die hemel toe, veral dié wat u barmhartigheid die meeste nodig het. Amen.
Wees gegroet, Koningin
Wees gegroet, Koningin, Moeder vol barmhartigheid,
ons lewe, ons vreugde en ons hoop, wees gegroet.
Tot u roep ons, verbanne kinders van Eva; tot u smeek ons wat sug en ween in hierdie tranedal.
Rig dan, o voorspreekster, op ons u barmhartige oë en toon aan ons ná hierdie ballingskap, Jesus, die geseënde vrug van u skoot.
O genadige, o liefdevolle, o beminde Maagd Maria!
Bid vir ons, heilige Moeder van God, dat ons die beloftes van Christus waardig mag word.
Gebed ná die Rosekrans
Laat ons bid:
O God, u eniggebore Seun het deur sy lewe, dood en opstanding vir ons die loon van die ewige lewe verkry. Gee dat ons, noudat ons oor die geheimenisse van die Heilige Rosekrans van die Geseënde Maagd Maria nagedink het, mag navolg wat hulle inhou en verkry wat hulle belowe. Deur Christus, onse Here. Amen.
Gebed tot die Heilige Aartsengel Michael
Heilige Aartsengel Michael, verdedig ons in die stryd; wees ons beskerming teen die boosheid en die liste van die duiwel. In nederigheid smeek ons u; dat God deur u ons van alle onheil sal bewaar. U is die aanvoerder van die hemelse leermagte, verdryf die Satan en alle bose geeste, wat rondsluip op soek na siele; dryf hulle deur die goddelike krag terug na die hel toe.
Allerheiligste Hart van Jesus, ontferm U oor ons. Soete Hart van Jesus, ontferm U oor ons en oor ons
afgedwaalde broeders en susters. Amen.